Monday, November 12, 2012

KUIERKIDZ Sê DANKIE!



Met die jaar 2012 wat op sy kop lê wil die beheerraad namens die kinders van die Kuierkidz leersentrum vir Breingestremde kinders graag dankie sê aan Hartbeespoorters wat hul deur die jaar goedgesind was. Meerhofskool en mev. Rita Burgers verdien die grootste dank vir hul onbaatsugtige liefde en diensbaarheid. Hulle het die Kuierkidz uitgehelp met 'n stukkie grond om hulself uit te leef toe daar geen uitkoms vir die sentrum was nie en doen so voort; daarom sê ons dankie vir ons Hemelse Vader vir mense soos Mev. Burgers en haar beheerliggaam wat ons ’n plek gun sonder eise en voorwaardes om ons gestremde kinders te kan bedien.
Dan is daar 'n magdom individue en organisasies wat te veel is om op te noem waarsonder Kuierkidz nooit sou kon oorleef nie; die Kuierkerk en sy mense wat ons aanvanklik op die been gehelp het en steeds hulp verleen, asook die Kormorant en sy personeel wat altyd gewillig is om te help met reklame of beriggewing. Ons het mense soos Yolanda le Roux wat sonder vergoeding drie keer per week inry vanaf West Lake om te help met die praktiese oefening en ontwikkelingsprogram van sekere kinders. Ons onderwysers verdien groot dank wat werk met liefde en geduld en vir ’n relatief klein salaris om hierdie spesiale kindertjies te help om optimaal te funksioneer. Ons sê dankie aan mense soos dr. Hermie Burgers en dr. Cas Olivier wat op ons beheerliggaam dien en kosbare raad en hulp verleen. Diana Reynecke verdien dank omdat sy ons met ons finansies en boekhouding bystaan.
Kuierkidz is 'n niewinsgewende organisasie en is afhanklik van donasies en fondsinsamelings projekte om maandeliks te kan oorleef en sonder elke Hartbeespoorter se goedgesindheid kan ons nie die mas opkom nie. Dankie vir elkeen se oop hand en hart. Hierdie jaar het organisasies soos Jakaranda, Castrol en Dreamteam ook 'n groot poging aangewend om ons kinders te bederf en fondse te bewillig. Dankie daarvoor.
Kuierkidz verdeel vanaf 2013 in drie dele: 'n kleuterskool, skool en 'n volwasse sentrum. Ons nooi graag belangstellendes om op 23 November tussen 15:00 -16:00 te kom inloer en ons kersmark te besoek. Ons spog met ons gestremde leerders se eie handwerk en kersversierings wat ons gaan verkoop.
Dankie vir elke persoon wat ons deur die jare goedgesind was en ondersteun het. Ons dank veral ons Hemelse Vader vir Sy beskerming en liefde.

Groete,
René van Zyl
(Namens die Beheerliggaam van Kuierkidz)