BLOG DEUR 'N KUIERKIDZ MAMMA

Opgedateer SEPTEMBER 2018:
Hierdie blogs is geskryf deur een van ons Kuierkidz se ma's, Rene' van Zyl, vir die Voelgoed/blog van finesse tydskrif. Dalk help dit n ander ouer om te deel met sekere vraagstukke of laat iemand sommer net lag. 
* Nog blogs: https://www.voelgoed.co.za/blog/mev-doeminie-en-die-sucker-punch of www.renevanzyl.blogspot.com

Mevrou Doeminie en die uitsondering op die reël.

Soos vele kere vantevore kom ek voor SASSA se kantoordeure met my breingestremde seun van 25 te staan.
Hierdie is my grootste nagmerrie. Vir ‘normale’ mense wat Sassa ongeskiktheidstoelae kry, is die proses eenvoudig te bewys wie jy is. Jy druk jou duimpies op ʼn elektroniese vingertoetser en siedaar. Met my happy en kommerlose seun, Sean, moet dit mos ook so wees? Hy is dan so oulik – nes ʼn tweejarige (dis ook sy breinkapasiteit). Ek bel, verduidelik vooraf. Die mannetjie doen nie vingerafdrukke nie. Toemaar ons sal mooi met hom werk. Hy DOEN nie vingerafdrukke nie, want, sien, ʼn klompie jaar gelede het die manlike dokter by Sassa se kantore die kind deur hel gesit met herhaaldelike vingerafdrukke van AL sy vingers, terwyl hy hom op die vloer vasgedruk het en vir my gesê het: DRUK. Dit was soos emosionele verkragtig soos die kind geskreeu en gestoei het, want hy is ernstig tas-sensitief.
 



















Elke keer as ons PROOF OF LIFE moet gee, dieselfde storie. Toemaar, mevrou, ons sal hom mooi help. Dan ry ek soontoe vol wanhoop en depressie, want ek weet wat ek weet. In vandag se geval by ʼn kerk in Pretoria waar almal die nuwe SASSA-kaart moet kry. Dit neem gemiddeld 5 minute per persoon om die proses te voltooi. Gee jou id-boek, ou Sassa-kaart en jou twee duimafdrukke. Kry nuwe kaart. Maklik. Die hele saal sit vol mense.
Dankie tog, hulle help gestremdes eerste. Ek waarsku weer. Hy gaan nie duime gee nie. Ontspan, Mevrou, ons sal dit doen. Ek is gespanne. Kan ek nie maar myne gee nie? - Nee. Dis dis stelsel. Oor 18 jaar mag geen mens meer ʼn voog hê nie.
Volgorde van gebeure: Skree, baklei, byt, huil, val op die vloer, skree, skop, skree harder, nee, kalmeer, nee, los die kind, skop, skree, baklei. Ek stap later uit die saal so in die middel deur tussen die twee groepe stoele wat weerskante gepak is vol mense. Walk of shame.

Ek is so moeg vir stelsels wat nie voorsiening maak vir uitsonderings nie. Maar, ek mag nie kla nie, ek het ʼn dak oor my kop en ʼn bord vol kos. Ons is oukei. Vele ander het nie eens dit nie. 


********************************************************

Mev. Doeminie blaf vir die swart hond
Die wat nie die swart hond ken nie, is besonder gelukkig. Hy bekruip jou stilletjies in die nag en as jy weer sien sit hy snoesig saam met jou in die bed, op jou skoot as jy TV kyk, op jou rug as jy in die dorp is. Daai hond van depressie wat nie luister vir voertsek nie.
Toe my seuntjie op 15 maande breinskade opdoen en byna leweloos gelaat is, het die ou swart brak by my kom waak. Ek’t hom eers nie raakgesien nie; ek was so moeg van elke oggend opstaan na ‘n nag waarin nie ek of hy geslaap het nie. Boonop is ek swanger met my tweede kind en die hormone mal. Ek was gefokus om elke oggend te begin met my seuntjie se strawwe oefen-en-fisioterapie-program, dat ek swart brak misgekyk het. Vir lank. Opstaan, oefen. 8 ure per dag. Min vordering.
Ek wou na so jaar of twee nie meer opstaan nie. Daai swart hond se groot lyf het my platgelê: elke dag se geoefen en roetine het my en my regterbrein lamgelê. Dae het emosieloos, energieloos en hopeloos voortgestap. Ek sê een aand vir my man ek is so moeg vir oefen. Hy sê los dit. Die Here verwag dit nie van my nie. ’n Groot las is van my gelig. Steeds volg swart hond my getrou met skuldgevoelens en gedagtes van mislukking. Slegte ma. Ek het begin pretgoed met die kinders doen. Meer gestap, meer plekke besoek – met moeite. Hond stap saam. Toe begin ek dink aan almal wat ek afgeskeep het en begin weekliks ’n geskenkie koop vir ou vriendinne en vat dit vir hulle. Hond is verbaas. Toe begin ek saans dink aan een positiewe ding van die volgende dag. Net een ding. En wanneer ek soggens opstaan het daardie ding my laat beweeg. Swart hond het toe weggeloop. Vandag nog doen ek dit. Soms sien ek hom nog daar buite die heining sit, maar dan soek ek net daai een positiewe ding vroegoggend en ek kan deur die dag kom. Vrede.     


Mev. Doeminie en die #WURM
   
‘Happy days’ is my foto-lêer waarin ek my en my man se foto’s bêre van toeka tot nou, van universiteit af toe ons soos jong, lieflike, energieke skoenlappers was. As jong getroudes het ons albei lekker werk gehad; besig, besig, vlieg nog hoër.  
Ons eerste baba word geboorte. Ons beker loop oor! Slim en woelig. Die wêreld is ons speelplek. Ons is buitelewe mense en reis rond in Afrika. Terug tuis word ons seuntjie op 15 maande dodelik siek. Oombliklik verander jou sonskynlewe handomkeer. Die skoenlappervlerke verkrummel in die volgende fase in – ons is skielik elkeen in sy eie donker eiertjie. Ongemaklik, in ’n spasie ingedruk waarin ons nie kan beweeg of asemhaal nie. Pynlik. Dis hier waar God stil met ons kan werk en ons aandag het.    
Die sonskynseun wat ons geken het, is ‘dood’. ’n Klein skaduwee van hom kom terug uit die hospitaal – net sy glimlaggie is oor. Hy kan skaars sluk. Elke spier is pap. Die brein moet nuwe paaie vorm. Ma moet hom heeldag oefen. Pa vlug werk toe. Ons word wedergebore in hierdie tyd. Klein wurmpies kruip uit die donkerte uit, wriemel om te oorleef in ’n harde wêreld, maar al sien ons Hom nie, sorg die Here selfs vir die kleinste wurmpie.
Dae word weke, maande, jare vol trane, oefen, depressie, hoop, lag, wanhoop en bid. Sean ontwikkel so stadig, dis skaars sigbaar. Jy stoei met God, met jou man en met jou eie demone. Jy bid vir genesing, besoek gebedsgenesers, GLO dat God die onmoontlike KAN. Niks gebeur nie. Twee pragtige dogtertjies word gebore. Elke dag is ’n unieke uitdaging/oorlewing. Die wurmpie-gesin groei, kruip, word fris wurms, begin selfs spin. Selfs Sean groei; 22 jaar later vertel ons foto’s ’n storie van ’n pap wurmpie, nou ’n lieflike happy skoenlapper, al is hy net 3 jaar oud in ’n 23 jarige lyf. Sy susters is beautiful, kleurvolle skoenlappers. En sy ouers het iewers langs die pad ook weer hul vlerke gekry. ’n Gedaanteverwisseling. ’n Ingrypende verandering van vorm/struktuur/karakter. Ons waardeer elke dag wat God ons gee. Ons kan weer vlieg.  


MEVROU DOEMINIE KLIM DIE GELOOFSBOOM
’n Teoloog preek eenkeer: “Jy moet God in ’n hoek in kan bid met jou geloof.” My kreatiewe verbeelding glo dit hoek, sinker en vis. Ek’t blindelings begin glo dat God my geloof sal beloon as ek wragtig glo. Hebreërs 11 sê mos: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Hierdie geloofsverse het my vir jare aangevuur. En, sê die super-Christene, jy moet ook daad by woord voeg. Soos ek sê, ek’t verbeelding. As ek na die volgende geloofsgeneser gaan met my breingestremde seun, dan DOEN ek. Sean was nog op doeke, dan los ek dit tuis en vat onderbroeke saam: As God my geloof sien, sal Hy my beloon en hom genees. My redes is edel: Die genesing is nie net vir myself of my gebroke kind nie; as mense God se wonderwerkende krag in ons seun sien, sal baie tot geloof kom. Al kom ons tuis met ’n bemorste motor a.g.v. my dade, is my geloof nie geblus nie: die tyd was seker nie reg nie?    
Super-Christene sê Sean genees nie want ek GLO nie genoeg nie. Ek’s dan MEVROU GELOOF! Of ek’t nog te veel sondes wat keer dat God se krag werk. Regtig? Ek’t my diepste sondes begin soek, tot binne my ma se baarmoeder! Ek kon nooit verstaan hoe God nie my gebede verhoor nie? Is ek nie ook ’n geliefde wat Hy sommer in die slaap beloon nie? Na jare se ‘geloofsmislukkings’ waartydens ek God in elke hoek in wou bid/glo/smeek, met so baie van my avonture, het Hy my met wysheid beloon: God is God. Jy bid hom nêrens heen nie. Hy doen wat HY WIL doen wanneer Hy dit doen. En al geloof wat ek moet hê, is dat Hy vir my alles ten goede laat meewerk. Hy gee nie ’n slang as ek ’n vis vra nie. Ek bring steeds my behoeftes na Hom met gebed, smeking en danksegging, maar ek’t minder vrae, verwagtings en eise. Ek berus in sy wysheid. Vrede.

MEV DOEMINIE, RENOIR… PICASSO… MATISSE! LOS UIT!

Nota aan self: As jy soos vreedsame Mona Lisa met elite Johannesburgdames ‘n Franse Meesters Kunsuitstalling wil bywoon, moenie jou 19jarige breingestremde seun, met die brein en energie van ‘n driejarige, saamneem nie; al weet jy hy gaan dit gate uit geniet. Hy is so lief vir mense en plekke!
As maplotter wou ek my twee tienerdogters bederf met bietjie kuns en kultuur. Geen babysitter. Boeta moet saam. Hoe erg kan dit wees?
Johannesburg verkeer. Reën. Styl trappe. Eerste vloer. Sean met sy lang lomp lyf doen nie die trap-ding nie; hy kan net lang tree loop (soos mr Bean). Ek’s dikker as hy, so, ons kom sukkel-sukkel bo. Hy groet oordadig gulhartig die gesofistikeerde tannies.
Sjoes, man, Sean!
Ag, hoe verruklik: 20ste eeuse meesters, Matisse, Monet, Renoir, Picasso, Grüber... Ek en die meisies oeee-aaa oor balans, kleur, tegniek, styl...
BLIIIIEEEEEP! ‘n Alarm. Sean het oor ‘n masking tape streep te naby aan ‘n skildery getrap. Sekuriteitswagte volg hom nou want hy wil met sy 21ste eeuse besmette vingers aan die tydlose kunswonders vat!  
Res van die oggend:
Renoir...
Sean! Die streep!
BLIEEEEP! (Almal kyk.)
Jammer, sorry... he doesn’t understand.
Matisse...
Ma! Flippen hel! Kyk, vir Sean! (my dogters)
BLIIEEEP! (Almal kyk.)
Sean, moenie die Security-man soen nie!
Roger dela Fresnaye...
Ma! Nou druk hy daai ryk tannie! (my dogters)
Sean! Wil jy kar toe?
NEEE! (Sean)
BLIEEEP! (Almal kyk) 
Sean! Sit nou hier!
NEEEEEE! (Sean)
Ma, hy gaan by die trappe afol! (My dogters)
Magtig! Kom ons ry!
Teen dié tyd wil ek my kind teen die mure vasspyker sodat hy lyk soos Munch se THE SCREAM!
Die trappe is te styl vir veilig afklim. Ek moet Sean op die grond platdruk sodat hy sit-sit afskuif. Hy wil nie. Ek stoei hom plat. Almal kyk. Ons is onder. Die dames daarbo sug verlig. In die kar begin ons giggel. Ek besef net: al die über-geniale meesters met hulle multimiljoendollar gawes was gekwelde siele vol wroegings. Sean daarenteen, met sy eenvoudige brein, se enigste gawe is liefde. Dís ‘n über-gawe. Dit kan nie in dollars gemeet word nie.   

MEVROU DOEMINIE EN DIE BOS-ENGEL.

Ek het nooit gevra vir een nie of ooit gedink aan die voordeel van ’n engel in mens se lewe nie. Maar eendag het sy voor my deur gestaan. Sy het in ’n vreemde engeltaal gepraat wat ek nie verstaan het nie. Ek het toe nie geweet dis ’n engel nie. Hoe kon ek? Sy het nie vlerke gehad nie. Ook nie besonder geskitter nie. Sy was ’n Afrika bos-engel. Haar vel was donker. Sy kom van KwaNdebele af, het sy in haar taal gesê. En ek het vreemd genoeg verstaan.
Ek was ver swanger met my eersteling en ’n voltydse hulp was woes nodig. Sy het ingespring en alles gedoen wat ek nie kon nie; vloere, klere, skottelgoed gewas. Ek het nog steeds nie geweet sy’s ’n engel nie. Sy was maar maar net sy, Afrikamens sonder finesse en fieterjasies. ’n Jaar en ’n half later het my pragtige seuntjie ’n breinvirus opgedoen. My engel het saggies in die kombuis gehuil en Bybel gelees en gebid vir my, terwyl ek histeries in die hospitaal gehuil het en met ‘n ‘wrede’ God baklei het.
By die huis het my engel stil-stil my baba se poefdoeke gewas, en steeds die huiswerk bygehou; my stukkende baba vasgehou as ek doodmoeg en vrot van depressie was; die stil, sterk krag wat my staande gehou het as selfs my man inmekaar gestort het. Sy het my twee dogters, wat later gebore is, met liefde ge-abba en versorg as ek nie krag gehad het nie. (Sy kan bly wees ek het nooit daardie vlerke van haar opgespoor nie, dalk het ek dan lankal in ’n donker depressie-aanval daarmee weggevlieg!)
22 jaar later, is my engel steeds hier, waai sy my met steeds onsigbare vlerke koel en maak my breingestremde ‘baba’ van 23 se beddegoed skoon as hy ’n glips gehad het. Onvoorwaardelike Jesusliefde in die vorm van ’n swart engel: Rosina. Ek hoef nie vlerke te sien om te weet sy is pure engel nie, gestuur deur God om my, nietige mens, te bedien. Genade onbeskryflik groot.        


  Mev. Doeminie se Annus Horribilis
Deur Rene’ van Zyl (skrywer, blogger, kinderwerker)
Ek is ‘n mevrou Doeminie want my man is ‘n Doeminie. Ek het dit nie gekies nie. Hy was eers ‘n ingenieur, toe ons getrou het. Toe gaan swot hy vir predikant. Nou is ek in ‘n vroom boksie in gedwing. Ek voel soms beproef, bedruk en baiekeer spring ek uit my vervelige boks (doos is seker meer korrek). Dus eien ek myself die reg toe om ook soms ‘n “horrible year” te hê (Annus Horribilis); elke nou en dan. Net soos die Queen van Engeland. Wie is sy nou om alleen sulke vreeslike jare te beleef? Sy sit op ‘n goue toilet, het ‘n duisend butlers en kroonjuwele. Sy het beslis nog nie in my stowwerige Afrika doos geleef nie. Ek sweet in liters, gloed in gallonne en woed in kilometers en dit nogal op ‘n doodnormale dag. Ek voel dikwels ongewaardeer, doelloos en nietig. Ek voel meeste van die tyd ek sleep net agter Jesus se jas aan en ek moet klou om by te bly. Ek glo God het ‘n plan met elke fase van my holderstebolder lewe maar ek sien dit gewoonlik te laat raak, of nooit raak nie. Hy is die enigste Een wat geduld het met my geite en my grille. Dankie tog.
My naam beteken VREDE. Rene’. My nooiensvan beteken VREDE. Joubert. Ek behoort dus vrekken vrede te hê? Toe nie. Ek is alewig aan die veg met iets of iemand. Dit gebeur gewoonlik net in my kop want ek is nie ‘n fighter nie. Ek veg ook nie met klein vissies nie – ek takel die Grote: My grootste opponent is God. As dit vir jou soos laster klink, is jy ‘n baie beter Christen as ek; ‘n super Christen wat vroom is en doelgerig oppad is hemel toe en soos die Queen geen probleme het nie. Jy het dan volmaakte vrede. Ek daarenteen moet eers deurnag stoei soos Jakob voor ek vrede kry.
As jy ‘n gewone, wriemelende Christen soos ek is, het jy verseker ook jou uitdagings wat vir jou erg is. Myne sluit in: my groot, oor-kreatiewe verbeelding wat van elke molshoop ‘n berg maak, my geleerde predikantsman met ‘n hand vol grade wat stoei met sy eie krisisse en demone te midde van ‘n wêreld wat predikante in ‘n heilige dosie plaas, ‘n 23 jarige seun wat tot onlangs toe nog doeke gedra het vandat hy op 15 maande ouderdom ‘n breinvirus opgedoen het. My twee dogters van 18 en 21 veg ook met hulle mengelmoes demone: alles van yuppiegriep, skoliose, nervous ticks en nog vele krisisse wat nie op hierdie bladsy gaan inpas nie!
Gelukkig weet ek dat ek ‘n geduldige God dien, wat elke berg ‘n molshoop kan maak en wat selfs my sweterige self kan vrede en hoop gee. Hoe weet ek dit? Ek sien dit in my breingestremde seun se lag en die passie waarmee hy sy eenvoudige dae slyt. Ek sien dit in my dogters se glimlagte as die lewe en mense nie so wreed is nie en ek sien dit in my man se toewyding en geesdrif selfs al word hy in die rug gesteek deur mede-Christene wat ander sienings het. En ja, ek sien dit in die sonsondergang na elke stormagtige dag. Ek dink tog dit is vrede. 
******************************************************************
MEVROU DOEMINIE EN DIE AGNOSTIKUS

EK IS NOU WRAGGIES NIE JUIS SKAAM OM OP FACEBOOK ’N GEBEDSVERSOEK TE DEEL NIE.

Soos toe ek vir die Here met ’n reeks gebede vra vir ’n wonderwerk sodat ons ouers die sentrum vir ons breingestremde kinders op Harties - die tehuis waarin ons tans is - te kan koop.
Die Bybel is duidelik daaroor dat jy maar vir die Here kan vra. Ek vra niemand se amen of ‘share’ nie. Dis maar my eie ding want ek weet uit my geskiedenis dat God gebede antwoord op die mees vreemde maniere. So plaas ek elke week ’n foto’tjie van een van ons breingestremde kids daarby. Nou, as jy ’n erg breingestremde kind het, stap die Here ’n besondere pad met jou gesin. Daar is baie dae van lag en hartseer. Maar jy het hierdie kindjie en jy is nie skaam vir hom nie, want God rus jou elke dag toe om by die situasie aan te pas. Jou geloof groei soos jou aanvaarding en liefde groei.
So vra ek vandag weer vir God om ons genadig te wees vir ’n wonderwerk vir ons kinders. My een vriendin antwoord: God is goed, want sy weet persoonlik wat God kan doen. En ’n persoon, ’n agnostikus/ateïs/wat ook al, wat nie eens my facebook vriend is nie, antwoord daarop: Sjoe, is dit nie eers duidelik hoe hierdie "god is goed", en "roep en god antwoord " glad nie sin maak gesien in die lig van die lyding en gebrek aan lewenskwaliteit van hierdie kinders nie!? Die gebrek aan intellektuele eerlikheid is skreiend! (Ek het sy spelfoute probeer regmaak.)
Ek gaan hom nie antwoord of blok nie. Al wat ek weet is dat hy tans nie God se liefde in hierdie situasie raaksien nie. Ek dank God dat hy my oë darem so bietjie op ’n skrefie oopgemaak het, sodat ek ietsie kan verstaan van ’n genadige God. Selfs in my en my breingestremde seun se lewe. Veral as ek sien hoe geniet hy elke dag en die gawes wat God hom skenk. My seun het blykbaar meer intellektuele/geestelike/emosionele insig as bogenoemde man. 
*****************************************************************************************************

MEVROU DOEMINIE EN DIE RESCUE REMEDY

AG, HOE MOEDELOOS WORD EK AS EK NET DAARDIE WOORD SIEN: DEUGSAAMHEID. EK DINK EK HET EERDER GAWES GEËRF SOOS STOEI OM TE OORLEEF EN MOEGHEID.

Ek vermy gewoonlik Spreuke 31 in die Bybel. Dit laat my vrot voel. Byvoorbeeld: Hierdie wyse vrou werk haar byna dood aan al haar dagtake (en dit met ’n vlytige glimlag), werk mooi met geld, hande staan vir niks verkeerd nie, maak ’n sukses van als, sorg vir armes, maak klere-en-wat-als vir die huis SELF, geestelik sterk, tree waardig op en met wysheid, is in volle beheer van haar huishouding en kinders. Haar man bewonder haar. En-so-flippen-voorts.
Ek moet nou eers ’n botteltjie Rescue Remedy drink. Voor ’n angsaanval my beetpak. Ek ken sulke fantastiese-vlinder-vroue. Langs hulle voel ek maar beteuterd en onvolmaak. Ek pluk die Spreuke toets. Ek’s gemeet en te lig bevind. Boonop veg ek met my bonsende gewig en malkoppie-hormone en sweet soos ’n os as ek my vlytige dagtake verrig. Dan moet ek nog my daaglikse loop inkry op die loopmasjien sodat ek darem my hart van diksaligheid kan red en langer leef sodat ek nog meer stoei om die perfekte vrou te wees. En dan moet my huismense nog hulle daaglikse brood inkry en kroniese pille en liefdevolle, opbouende aandag! En dan moet ek Sondae by die kerk gelukkig en vol energie lyk, want mevrou Doeminie kan nie vuisvoos en futloos daar aankom nie, nee, dan dink mense sy is sommer net ongeskik en onvriendelik en boonop dik ook!

Ag wat, ek glo dat God my liefhet vir die poging wat ek insit, vir opstaan elke oggend en elke dag voortveg. Baba-treetjies elke dag sodat ek die beste ma en vrou kan wees watEK kan. Ek bly glo: Daar is baie goeie vroue, maar EK met my unieke omstandighede oortref almal! Net so. Spreuke 31 sê mos: ’n vrou wat die Here liefhet, moet jy vir altyd koester. En vers 31 lees: “Eer haar vir wat sy doen.” Jip. Dis ek daardie – al besing almal nou nie noodwendig my lof nie: ek probeer!







No comments:

Post a Comment