Met die jaar 2012 wat op sy kop lê wil die beheerraad namens die kinders van die Kuierkidz leersentrum vir Breingestremde kinders graag dankie sê aan Hartbeespoorters wat hul deur die jaar goedgesind was. Meerhofskool en mev. Rita Burgers verdien die grootste dank vir hul onbaatsugtige liefde en diensbaarheid. Hulle het die Kuierkidz uitgehelp met 'n stukkie grond om hulself uit te leef toe daar geen uitkoms vir die sentrum was nie en doen so voort; daarom sê ons dankie vir ons Hemelse Vader vir mense soos Mev. Burgers en haar beheerliggaam wat ons ’n plek gun sonder eise en voorwaardes om ons gestremde kinders te kan bedien.
Dan is daar 'n magdom individue en
organisasies wat te veel is om op te noem waarsonder Kuierkidz nooit sou kon
oorleef nie; die Kuierkerk en sy mense wat ons aanvanklik op die been gehelp
het en steeds hulp verleen, asook die Kormorant en sy personeel wat altyd
gewillig is om te help met reklame of beriggewing. Ons het mense soos Yolanda
le Roux wat sonder vergoeding drie keer per week inry vanaf West Lake om te
help met die praktiese oefening en ontwikkelingsprogram van sekere kinders. Ons
onderwysers verdien groot dank wat werk met liefde en geduld en vir ’n relatief
klein salaris om hierdie spesiale kindertjies te help om optimaal te funksioneer.
Ons sê dankie aan mense soos dr. Hermie Burgers en dr. Cas Olivier wat op ons
beheerliggaam dien en kosbare raad en hulp verleen. Diana Reynecke verdien dank
omdat sy ons met ons finansies en boekhouding bystaan.
Kuierkidz is 'n niewinsgewende organisasie en
is afhanklik van donasies en fondsinsamelings projekte om maandeliks te kan
oorleef en sonder elke Hartbeespoorter se goedgesindheid kan ons nie die mas
opkom nie. Dankie vir elkeen se oop hand en hart. Hierdie jaar het organisasies
soos Jakaranda, Castrol en Dreamteam ook 'n groot poging aangewend om ons
kinders te bederf en fondse te bewillig. Dankie daarvoor.
Kuierkidz verdeel vanaf 2013 in drie dele: 'n
kleuterskool, skool en 'n volwasse sentrum. Ons nooi graag belangstellendes om
op 23 November tussen 15:00 -16:00 te kom inloer en ons kersmark te besoek. Ons
spog met ons gestremde leerders se eie handwerk en kersversierings wat ons gaan
verkoop.
Dankie vir elke persoon wat ons deur die jare
goedgesind was en ondersteun het. Ons dank veral ons Hemelse Vader vir Sy
beskerming en liefde.
Groete,
(Namens die Beheerliggaam van Kuierkidz)