Tuesday, October 13, 2015

KUIERKIDZ SE DROOM!

Positiewe dinge gebeur so vinnig by Kuierkidz in 2015 dat ons net moet vashou of ons val af - en dit danksy Rene' Coetzee wat sedert begin 2014 haar wysheid en ondervinding as hoof met die Kidz kom deel het - wat gratis werk vir ons spesiale kinders! (Mag die Here jou uit jou sokkies uit seen!). Ons kinders het gegroei tot sowat 20 leerlinge en dit is ongelooflike seen vir ons sentrum. Tans is ons gelee by die Meerhof skool, op 'n area wat hul vir ons tot tyd en wyl beskikbaar stel en ons is sooo dankbaar teenoor hulle. Ons klaskamers is in pre-fab geboue - alles wat deur die gemeenskap vir ons gegee is. Maar ons sentrum groei so dat ons binnekort nie meer regtig daar gaan inpas nie.





Hier is 'n klompie van ons leerlinge - so gelukkig en so afhanklik van die Here! Ons kan ook nie sonder een van ons dierbare onderwysers en tutors oorleef nie - hulle is God se engele wat Hy gestuur het om ons kinders te bederf, leer en te vertroetel!





Ons weet die Here seen ons tans met so baie geleenthede en soveel wonderlike mense dat ons net ons hande kan saamslaan. Ons weet ook Hy sal ons verder lei en versorg.





Ons bid al 'n geruime tyd vir 'n sentrum en tehuis van ons eie op Harties waar ons kinders 'n veilige leeromgewing maar ook uiteindelik 'n tuiste kan geniet. Daar is so 'n plek beskikbaar teen 'n spotgoedkoop prys om te huur tot ons 'n wonderwerk kry om dit te koop!!!. Hierdie huis het meer as 20 vertrekke waarvan 12 kamers 'n eie badkamer het - dit is so ideaal. As dit die Here se wil is sal ons graag soontoe wou trek.

Bid saam met ons vir wysheid - soos dit is met ons ouers se maandelikse skoolgelde wat reeds hoog is en met 'n fondsinsameling heir en daar, kan ons net die skool se maandelikse onkostes betaal. Dus, 'n eie tehuis (huur of koop) is byna onmoontlik - maar ons weet vir God is alles moontlik - bid saam met ons asseblief.

Gebed: (soos op ons facebook profiel: Sean-Jacques Van Zyl Kuierkidz / of Kuierkidz Leersentrum. )

40 Dae gebede vir Kuierkidz. Dag 24. Here Jesus ons het soveel wysheid nodig. Dinge gebeur en ons moet besluite neem. Lei ons om te weet wat om te doen, Here, want self weet ons nie. Ons kan NOU 'n fantastiese groot tehuis/sentrum op die dorp huur vir spotgoedkoop huur per maand (R5000) tot ons dalk self kan koop. U weet, as privaat skooltjie, ons kan skaars ons maandelikse onkostes dek soos dit is maar dis so 'n wonderlike geleentheid - Here help ons om te weet wat U wil is en wat ons moet doen - ons bid dit in Jesus se naam. Amen.













 (As ouers/personeel meer inligting wil he, kontak my Rene' van Zyl by 082 396 4100)

Wednesday, August 26, 2015

KUIERKIDZ LEERSENTRUM 2015

KUIERKIDZ LEERSENTRUM 2015

Ons as ouers is so dankbaar vir al die ontwikkeling en groei wat in Kuierkidz gebeur het sedert ons nuwe hoof, Rene' Coetzee (links op foto), begin van 2014 by die skool oorgeneem het. Sy is direk van die Here gestuur en ons is geseend ver bo wat ons ooit gedink het ons kan wees.

Ons het hierdie jaar 16 kinders by die skool en byna soveel tutors en juffrouens! Party kom en gaan maar die Hemelse Vader sorg dat ons sentrum se wiele rol en die kinders word gestimuleer, geoefen en basiese lewensvaardighede geleer soos nerens waar ek al betrokke was nie. Rene Coetzee is nie verniet al aangewys as die beste skoolhoof in Gauteng nie - sy is haar gewig werd en al veg sy tussendeur nog die kankerduiwel - is haar gees en gesondheid positief en dryf sy die skool met geloof, hoop en liefde - ons kan nie genoeg dankie se nie! DAnkie vir elke tutor en helper wat elke dag soveel liefde en geduld  in ons kidz se lewens instort. Julle is soos engele vir ons en ons kinders. Ons het julle so nodig en kan nie genoeg dankie se nie. Dankie vir elke ander engel wat op ons pad kom en wat ons kidz bederf of omgee op welke wyse ook al. Mag die Here jul almal uit jul sokkies uit seen.

Met die fondsinsamelingsaksies gaan dit goed en ons word weereens hierin geseen - Hierdie jaar in Maart is reeds 'n suksesvolle gholfdag gehou wat weereens alle verwagtinge oortref het en die kids het dit behoorlik geniet om die dag op die gholfbaan en in die kiddies corner te speel terwyl die gholfspelers hulself besig hou met grootmensgoed!

Die Hartbeespoort Hengelklub het verlede naweek 'n groot 24 karpvang hengelkpmpetisie gehou by die Aquatic klub in Ifafi - ten bate van Kuierkidz en dit was 'n heerlike dag langs die viswaters van Hartbeespoortdam waartydens die kinders lekker bederf is.

Baie dankie aan elkeen wat ons Kidz so bederf en seen met wat ook al - julle is 'n riem onder die hart!!

Groete Rene' van Zyl


Dankie aan Hartbeespoort Hengelklub en Landmark wat ons elke jaar bederf met 'n groot hengelkompetisie.












Dankie aan Pick-a-Pay Hartbeespoort wat aan die Kuierkidz 'n grootskerm TV geskenk het.














Gholfdag 2015 Fotos:












 

Monday, June 2, 2014

KUIERKIDZ 2014 HOOGTEPUNTE SOVER!

AS jy ons onlangs gekontak het, en nog nie 'n antwoord ontvang het nie - kontak asb weer - daar was 'n effense tegnologiese probleempie en ons kontakinfo is aangepas!! Nuutste nuus: Ons het 2014 afgeskop met 'n "BANG" met ons jaarlikse gholfdag! Ons was so geseend - veral toe dit aanvanklik gelyk het of die hele dag gaan uitreen! Maar God het ons gebede verhoor en ons het alle rekords oorskrei!
En dan was daar die heerlike uitstappie na ons plaaslike filmstel-dorpie, PRETVILLE! Kyk net hoe het almal dit geniet!!














KUIERKIDZ: NUWE KONTAK INLIGTING!

Hiermee wil ons net nuwe kontak inligting deurgee vir almal wat ons Sentrum wil kontak of besoek. Kyk gerus hierbo na al die basiese inligting. Telefoonnommers is as volg: 

Rene' Coetzee (Hoof/Raadgewend): 082 789 2572
Wendy de Wet (Admin): 072 158 2484
Ilze van Coller (Fondsinsameling): 079 886 9347
Algemeen navrae: 079 626 9859


 

Monday, November 12, 2012

KUIERKIDZ Sê DANKIE!



Met die jaar 2012 wat op sy kop lê wil die beheerraad namens die kinders van die Kuierkidz leersentrum vir Breingestremde kinders graag dankie sê aan Hartbeespoorters wat hul deur die jaar goedgesind was. Meerhofskool en mev. Rita Burgers verdien die grootste dank vir hul onbaatsugtige liefde en diensbaarheid. Hulle het die Kuierkidz uitgehelp met 'n stukkie grond om hulself uit te leef toe daar geen uitkoms vir die sentrum was nie en doen so voort; daarom sê ons dankie vir ons Hemelse Vader vir mense soos Mev. Burgers en haar beheerliggaam wat ons ’n plek gun sonder eise en voorwaardes om ons gestremde kinders te kan bedien.
Dan is daar 'n magdom individue en organisasies wat te veel is om op te noem waarsonder Kuierkidz nooit sou kon oorleef nie; die Kuierkerk en sy mense wat ons aanvanklik op die been gehelp het en steeds hulp verleen, asook die Kormorant en sy personeel wat altyd gewillig is om te help met reklame of beriggewing. Ons het mense soos Yolanda le Roux wat sonder vergoeding drie keer per week inry vanaf West Lake om te help met die praktiese oefening en ontwikkelingsprogram van sekere kinders. Ons onderwysers verdien groot dank wat werk met liefde en geduld en vir ’n relatief klein salaris om hierdie spesiale kindertjies te help om optimaal te funksioneer. Ons sê dankie aan mense soos dr. Hermie Burgers en dr. Cas Olivier wat op ons beheerliggaam dien en kosbare raad en hulp verleen. Diana Reynecke verdien dank omdat sy ons met ons finansies en boekhouding bystaan.
Kuierkidz is 'n niewinsgewende organisasie en is afhanklik van donasies en fondsinsamelings projekte om maandeliks te kan oorleef en sonder elke Hartbeespoorter se goedgesindheid kan ons nie die mas opkom nie. Dankie vir elkeen se oop hand en hart. Hierdie jaar het organisasies soos Jakaranda, Castrol en Dreamteam ook 'n groot poging aangewend om ons kinders te bederf en fondse te bewillig. Dankie daarvoor.
Kuierkidz verdeel vanaf 2013 in drie dele: 'n kleuterskool, skool en 'n volwasse sentrum. Ons nooi graag belangstellendes om op 23 November tussen 15:00 -16:00 te kom inloer en ons kersmark te besoek. Ons spog met ons gestremde leerders se eie handwerk en kersversierings wat ons gaan verkoop.
Dankie vir elke persoon wat ons deur die jare goedgesind was en ondersteun het. Ons dank veral ons Hemelse Vader vir Sy beskerming en liefde.

Groete,
René van Zyl
(Namens die Beheerliggaam van Kuierkidz)       

Friday, October 19, 2012

2012 'n Jaar vol Heerlike verrassings!

Die jaar is nog beslis nie verby nie maar sover kan ons net vir die Here dankie sê vir elke oop hand en elke bietjie hulp wat ons van die gemeenskap ontvang het. Daar was so baie hoogtepunte.

Ons het vroeg die jaar afgeskop met ons jaarlikse Gholfdag by die Brits gholfbaan in Maart! So baie helpende hande en spelers het ons daardie dag geseën met hul liefde en vrygewigheid. Dit was die tweede gholfdag wat deur die vriende van Kuierkidz gereel is met baie hulp van die personeel en ouers. Ons het pryse ontvang van al wat leef en hierdie dae word baie gewild onders Hartbeespoort se inwoners asook heelwat mense van Johannesburg en Pretoria.

Ons tweede groot aksie was die jaarlikse moderne Bybelse Musiekblyspel, King David and his eight wives, by die Kuierkerk op Hartbeespoort! Dit is soos gewoonlik geskryf deur myself (René van Zyl) en hierdie jaar het Doreen Coetzee gehelp met die regisseurwerk en die afrigting van die spelers. Dit was 'n reuse sukses en die spelers wat almal al so goed ken, het hulself goed gekwyt van hul taak. Die sang en toneelspel was uit die boonste rakke. Esmé Walker het soos gewoonlik die dekor hanteer en dit was lieflik. Almal het uit die toneelstuk gestap met 'n beter en meer empatieke verstaan van die rolspelers in die tyd van koning Dawid. Volgende jaar sal ons Koningin Ester aanpak, 'n kleurvolle fees vir die oog wat afspeel in Persië! My vingers juk al behoorlik om te begin skryf. Dit gaan vol humor en aksie wees! Dit sal weer die begin van Junie plaasvind.
Hierdie foto's kom uit die Dawid musiekblyspel by die Kuierkerk. Dit is 'n jaarlikse instelling en winste gaan aan Kuierkidz.








Bruce McKay was die mallerige koning Saul in die Koning Dawid musiekblyspel wat ten bate van Kuierkidz aangebied word.

Yolanda le Roux (links) is 'n groot hulp by die skool en offer so baie van haar tyd op om ons kinders te leer en te help. Jy is 'n engel! Langs haar is Charlie Brits, die voorsitter van ons Beheerliggaam en 'n fenominale vrou waarsonder ons nooit sou klaar kon kom nie! Dankie julle!

Dan was daar in Oktober die aksie wat gereel was deur Castrol Magnatek, Jakaranda en Dreamteam sommer by ons skooltjie. 'n Hele klomp mense het afgekom na ons plekkie en het die hele skool in'n partytjieplek omskep! Die kinders, personeel en ouers is bederf met lekker eetgoed, presente, skenkings aan die skool en almal was gedaan gespeel aan die einde van die dag - ook die personeel van die drie organisasies wat betrokke was! Baie dankie julle almal, dit was groot bederf!



 Die nar van Castrol het sy eerste optrede hier by Kuierkidz aangepak en dit was 'n vuurdoop! Hy het hom goed van sy taak gekwyt en net gelag! Die kinders was mal oor hom. Baie dankie!


Ons sien met afwagting uit na 2013 en die moontlikheid van ons eie perseel en geboue - mag die Here ons goedgesind wees en die balle wat reeds aan die rol gesit is, momentum gee sodat ons binnekort ons skool kan uitbrei na 'n voorskool, skool en na-skool fassiliteit! Prys die Here want hy is so goed vir ons en ons kindertjies!

2013: Hier kom ons!!